Dassedagsé 25/05/18

Dassedagsê

Waardes: Gehoorsaamheid, Entoesiasme, Trots, Respek, Opregtheid, Uithouvermoë

Nuusbrief van Hoërskool Langenhoven               Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.                                  www.langenhovenhs.co.za                                                                                            

(028-7131065                                                     *Posbus 49, Riversdal, 6670                                                        25 Mei 2018

 

 

 

Aflê van skryfvraestelle

Die dogters wat verlede Vrydag hulle skryfvraestelle misgeloop het omdat hulle vroeg moes vertrek vir die Wes-Kaap netbalproewe, lê eerskomende Maandag gedurende die skooldag hierdie vraestelle af. Dit geld OOK vir diegene wat om een of ander rede nie die vraestelle verlede Vrydag kon skryf nie.

 

Sportdag teen Langenhoven Gimnasium

Ons speel vanjaar vir die eerste keer in ‘n sportdag met drie sportsoorte teen Langenhoven Gimnasium, op Oudtshoorn. Dit gaan ‘n harde neut wees om te kraak, maar ons glo dat die Dasse hulle allerbeste sal lewer. By voorbaat baie dankie aan ouers wat leerders vervoer en boonop langs die veld gaan ondersteun. Dit word opreg waardeer. Die busse sal om 05:45 vanaf die skool vertrek. Die Stilbaai-leerders vertrek om 04:45. Leerders moet ASB. betyds wees. Die sportprogram is aangeheg. 

 

Hokkie speel in Spar Uitdaagtoernooi

Drie van die skool se hokkiespanne het reeds hierdie week teen Langenhoven Gim kragte gemeet. Dit is omdat die eerste hokkiespan hierdie naweek aan die Spar Uitdaagtoernooi te George deelneem. Ons vertrou dat ons dogters die geleentheid sal geniet en hulle beste hokkie ten toon sal stel.

 

Netbal Topskole

Die skool se netbalspanne het uitdagende uitspeelstryde die afgelope Woensdag beleef. Dit is slegs die O/15-span wat tot die volgende rondte van die Topskole-toernooi deurgedring het. Baie geluk aan hierdie span!

 

Eksamen

Die eksamen neem amptelik Dinsdag ‘n aanvang. Ons wil ouers graag daarop wys dat die skool NIE toestemming mag verleen dat leerders by die huis mag bly om te studeer op dae wat hulle nie skryf nie. Indien u egter so ‘n besluit neem, MOET u asb. die skool daarvan verwittig. Leerders moet sorg dat hulle tydens die eksamen betyds by die skool is. Daar word baie moeite gedoen om te sorg dat Dasse-leerders netjies is en die reëls t.o.v. voorkoms bly tydens die eksamen presies dieselfde. Sorg asb. dat u kind netjies volgens die reëls geklee is tydens die eksamentydperk. Seuns moet, onder andere, netjies geskeer wees en steeds ‘n trotse beeld uitstraal.

 

NG Moedergemeente se basaar

Ons herhaal die afkondiging van verlede week: die NG Moedergemeente het gevra dat ons op ons nuusbrief moet aanbring dat hulle vanaand vanaf 17:30 hulle basaar in die kerksaal aanbied. Daar sal heerlike etes en ander verversings te koop aangebied word. Ondersteun hulle gerus.

 

 

Ina Paarman-projek

Ons herinner u aan die Ina Paarman-projek. Daar is al verskeie leerders wat ‘n groot hoeveelheid van die produkte verkoop het. Vertel asb. vir u bure en vriende van die projek!

 

100 ... nie-uit-nie!

Elana van Zyl speel môre haar honderdste netbalwedstryd vir die skool! Sy is tans die kaptein van die eerste netbalspan en speel al die afgelope drie jaar vir die eerste span.