Dassedagsê 24/05/17

mail
Langenhoven Header web
24 Mei 2017
                      Dassedagsê

 

    

Hokkie en Netbal in aksie

Langenhoven Gim het effens die oorhand oor die Dasse op ons tuisveld gehad met gister se jaarlikse stryd. Die eerste hokkiespan was ongelukkig om 2-1 te verloor en die ander tellings het weerspiëel hoe gelykop die wedstryde was. Die seunshokkie het weer verras. Die O/14’s het 0-0 gelykop gespeel!

Die eerste netbalspan het Montagu toe gereis omdat die wedstryd, a.g.v. proewe, nie verlede naweek kon plaasvind nie. Na ‘n baie taai stryd, was die telling gelyk met 28-28!

 

Debatteerders presteer

Drie van die skool se debatspanne is na afloop van verlede naweek se streeksuitdunne van die ATKV-debatskompetisie deur na die semi-finale rondte. Die semi-finale vind op 3 Junie in Port Elizabeth plaas. Hierdie leerders wat presteer het is Salomien Oosthuizen, Jancke Schonken (beide seniors), Natalie Stroebel, Anke Saayman, Rut Gouws, Christel Jooste, Jana van den Bergh en Johané Gerber. Die semi-finale rondte van die redenaars vind dieselfde naweek plaas. Dit beteken dat sewentien Dasse provinsiale kleure vir redenaars en debat verwerf het, voorwaar ‘n uitstekende prestasie deur ons leerders!

 

‘n Miernes van bedrywigheid

Hierdie naweek is daar ‘n miernes van bedrywighede op ons sportterrein. Die Wes-Kaap Netbalproewe vind vandag en môre op ons bane plaas. Daar is ‘n aantal Dasse-spelers en personeel wat hierby betrokke is. Baie dankie aan mev. Petrusa Marais, die hooforganiseerder van die naweek se proewe, wat bereid is om dit in belang van ons leerders, skool en gemeenskap te behartig. Ons besef dat dit met baie spanning, beplanning en tyd gepaard gaan. Dankie ook aan alle personeel en ouers wat haar hierdie naweek bystaan.

Daar is boonop môre ‘n sportdag met rugby en hokkie teen Hoërskool Montana. Baie sterkte aan al die Dasse. Die program is aangeheg.

 

Kommer oor huiswerk

Die personeel is bekommerd oor baie leerders se houding jeens hulle skoolwerk. Dit word weerspiëel in die getal leerders wat versuim om gereeld huiswerk te doen. Dit is ongelukkig ook dikwels dieselfde leerders wat steurend in klasse is. Die personeel gaan baie strenger teen sulke oortreders optree. Die skool het ‘n trotse akademiese tradisie en sal nie duld dat laksheid en ongedissiplineerdheid hierdie trotse tradisie bedreig nie.

 

Lazlo aan die hardloop

Lazlo Paulsen neem hierdie naweek aan ‘n interprovinsiale landloopbyeenkoms te Kimberley deel. Ons wens hom baie sterkte toe en glo dat hy weer eens uitstekend sal presteer.

 

Hemelvaart

Eerskomende Donderdag, 25 Mei, is Hemelvaart. Dit is nie ‘n vakansiedag nie, maar ons besef die belangrikheid van hierdie dag op die kerklike kalender. Die skool sal Donderdagoggend aan die begin van die skooldag ‘n kort diens in die saal hê. Ouers is ook welkom om dit by te woon as u sou wou.

 

Loopbaanuitstalling

Die jaarlikse loopbaanuitstalling vind eerskomende Maandag en Dinsdag in ons skoolsaal plaas. Maandagaand is vir ons ouers wat saam met hulle kinders inligting oor toekomstige loopbane wil inwin. Dit sal van 18:00 tot 19:30 wees. Daar sal Dinsdagoggend tydens die skooldag ‘n geleentheid vir leerders wees om die tersiêre instansies se uitstallings te besigting.

 

Hokkie- en skaakleerders presteer!

Daar is reeds berig van die hokkiespelers wat provinsiale kleure verwerf het, maar die spanne was nog nie gefinaliseer nie. Andrea de Waal het die Eden O/18A-span gehaal en Danielle de Beer, Andrie Swart en Zanelle Warner gaan die O/18B-span verteenwoordig. Die A-span speel tydens die Julie-vakansie in Potchefstroom en die B-span in Bloemfontein. Baie geluk aan hierdie leerders.

Drie skaakspelers, Dimitri Robertson, Wayden Albertus en Krishna Hattingh neem hierdie naweek aan Wes-Kaap skaakproewe te Vredenburgh deel. Ons wens hulle baie sterkte toe!

 

 

 

Hoërskool Langenhoven – 75 jaar oud!

 

 

 

 

--

HS Langenhoven geborg deur RIVERSDAL TOYOTA          

--