Dassedagsê 26/05/17

Langenhoven Header web
26 Mei 2017
                      Dassedagsê

 

Nόg ‘n Das-redenaar presteer!

 

Skye Luüs het verlede Donderdag, op Internasionale Museumdag, die Museum Speech Contest te Mosselbaai gewen. Die ander drie deelnemers het hulle ook uitstekend van hulle taak gekwyt. Ses skole het aan die kompetisie deelgeneem. Die tema van die toesprake was die rol van museums en geskiedkundige figure in die samelewing. Skye dring deur na die gala-aand wat in September aangebied word.

 

 

 

Redenaars en debatteerders neem in PE deel

 

Al die redenaars en debatteerders, soos die afgelope weke in hierdie nuusbrief aangedui is, neem volgende Vrydag en Saterdag aan die ATKV se semi-finale rondte deel. Hulle opponente kom van die hele Oos-Kaap streek en die spraaksame Dasse sal terdeë getoets word! Die bussie vertrek volgende Donderdag, 1 Junie, na Port Elizabeth. Ons wens al die redenaars en debatteerders ‘n veilige rit en baie sterkte toe vir hulle optredes.

 

 

 

Netbalspelers blink uit

 

Vyf netbalspelers is in die Wes-Kaap Skolenetbalspanne opgeneem. Hulle is Allison Eksteen, Hayleigh September, Juanique van Vuuren, Adunaike Herling en Nazli Prins. Ons is baie trots op hierdie leerders! Hulle neem in die Junie-vakansie aan die jaarlikse interprovinsiale toernooi deel.

 

Ons netbalspelers het die afgelope Dinsdag weer puik gevaar. Die O/14A’s en die O/18A’s het tydens die Topskole Toernooi se uitspeelwedstryde op ons bane hulle staal gewys en beide het vir die Wes-Kaap rondte op 10 Junie gekwalifiseer. Boonop het ons eerste netbalspan die volgende dag op Swellendam teen Hoërskool Montana gaan speel. Hulle kon nie die afgelope Saterdag teen Montana speel nie as gevolg van die Wes-Kaap Netbalproewe. Ten spyte van ‘n moordende netbalprogram, het die netbal-Dasse die Worcesteriete gemaklik met 37-24 afgeransel.

 

 

 

Kommer oor huiswerk

 

Die skool se kommer oor huiswerk is in verlede week se Dassedagsê uitgespreek. Daar is daadwerklike stappe geϊmplimenteer om diegene wat versuim om gereeld huiswerk te doen, vas te vat. Ons wil egter ook voorkomend optree. Daar is leerders wat nie eens ‘n huiswerkboek besit nie. Elke leerder MOET ‘n boek hê waarin huiswerk aangeteken word. Dit hoef nie ‘n dagboek te wees nie, maar kan selfs ‘n dun A5-skryfboekie wees. Daar moet egter net ‘n boekie wees waarin leerders elke dag se werk kan opskryf sodat huiswerk nie vergeet word nie.

 

 

 

Allister in Akademiespan

 

Allister Miggels, eerstespan rugbyspeler, is in die Eden O/18-Akademiespan opgeneem. Die span neem tydens die Junie-vakansie aan die Akademieweek deel. Ons is baie trots op hierdie begaafde rugbyspeler en wens hom ‘n suksesvolle toernooi toe.

 

 

 

Jan van Riebeeck

 

Dit is jammer dat die kragmeting teen Jan van Riebeeck effens afgewater is. Die besoekers kom môre met slegs sewe sportspanne teen ons meeding. Die spanne wat wel teen ons gaan meeding, sal beslis sterk teenstand bied. Die Das-spanne in aksie is die O/16A- en O/18A-hokkiespanne, die O/14A-, O/15A- (teen hulle O/16A’s) en O/18A-netbalspanne, sowel as die O/15A- en O/19A-rugbyspanne. Ons wens al ons spanne baie sterkte toe. Die program staan agterop hierdie nuusbrief. Die laat begintye is om ons besoekers te akkommodeer omdat hulle eers môre-oggend van die Kaap vertrek!

 

 

 

Skopboks

 

Drie gevaarlike Dasse neem hierdie naweek aan ‘n kompetisie deel, nl. die Cape Classic-kampioenskappe. Hulle is Chantelle de Jager, Anri Greeff en Enrico van Rensburg. Ons vertrou dat dit met hulle goed sal gaan en dat hulle hulle opponente behoorlik bloedneus sal slaan (figuurlik gesproke!) in Parow!

 

 

 

Skooltye volgende Vrydag

 

‘n Baie bedrywige program het tot gevolg dat die skool volgende Vrydag om 12:00 moet sluit. Twee personeellede vertrek al Donderdag PE toe met die redenaars en debat en agt ander moet al Vrydagmiddag op Stellenbosch vir die “Education Summit” aanmeld. Teken dus asb. die veranderde uitkomtyd aan.

 

 

 

Skoolfees

 

 

 

 

 

Ons herinner aan al die aktiwiteite tydens die Skoolfees aan die einde van die kwartaal. Ons herinner veral aan die Snotkop-vertoning op die Donderdagaand!

 

 

 

 

 

 

Hoërskool Langenhoven – 75 jaar oud!