Dassedagsé 05/05/17

               

 
mail
Langenhoven Header web
5 Mei 2017
                      Dassedagsê

 

Rus in vrede, Arthur

 

Een van die skool se gr. 9-leerders, Arthur Droste, is die afgelope langnaweek in ‘n motorongeluk oorlede. Hierdie lewenslustige seun met die pragtige glimlag se bank in die skool gaan leeg wees, maar hy sal lank deur sy maats en personeel onthou word. Ons bid dat ons Hemelse Vader sy familie in hierdie hartseer tyd sal onderskraag en troos.

 

 

 

Busgelde

 

Die Beheerliggaam het verlede jaar besluit om busgelde in te faseer. Daar blyk by sekere ouers ongelukkigheid hieroor te wees. Die volgende is ter verduideliking: die belangrikste prioriteit wanneer skoolgelde in belang van leerders aangewend word, is onderrig. Alle ander uitgawes uit die skoolfonds is hieraan ondergeskik. Die Beheerliggaam wil nie gelde wat vir onderrig gebruik kon word, op ander uitgawes soos vervoer spandeer nie. Verder, dit is ‘n meer regverdige benadering om aparte busgelde te hef, want leerders wat nie sport speel nie, “subsidiëer” nie diegene wat aan sport deelneem nie. Die opsie om verskillende bustariewe, volgens die verskillende bestemmings, is oorweeg maar verwerp omdat dit baie moeilik sou wees om te administreer. Die finale besluit was dus dat ‘n leerder wat ‘n “seisoenkaartjie” wil koop, R200 vir die jaar betaal. Leerders wat per geleentheid van busvervoer gebruik maak, kan R50 per rit betaal. Die reëling geld vir sport en kultuur. Ons vertrou dat bostaande verduideliking enige onduidelikheid uit die weg sal ruim. Indien daar nog onduidelikhede of onsekerhede is, is u welkom om dit met die skool te kom bespreek.

 

 

 

Wintersdrag                                             

 

Alle leerders moet teen Maandag 15 Mei volledige wintersdrag dra. Leerders moet daarvolgens dasse dra. Dogters moet óf langbroeke óf swart sykouse met hulle skoolrokke dra. Daar word van leerders verwag om skoolbaadjies ook te dra.

 

 

 

‘n Besige sportseisoen!

 

Die hokkie- en netbalspanne het Dinsdag teen Hoërskool Oudtshoorn gespeel. Die meeste van die spanne het aan die verkeerde kant van die telbord geëindig, maar nogtans goeie rekenskap van hulleself gegee. Die eerste hokkiespan het in ‘n baie gelykopstryd met 1-0 verloor en die eerste netbalspan het met 31-21 verloor.

 

Die eerste rugbyspan het Dinsdag vir Kannaland met 39-0 afgeransel!

 

Die program vir die hokkie- en netbalwedstryde van eerskomende Dinsdag is aangeheg.

 

 

 

Netbalproewe

 

Daar is 30 netbalspelers wat vandag en môre aan die finale Eden-netbalproewe te Oudtshoorn deelneem. Ons wens hulle baie sterkte toe en vertrou dat ‘n groot getal van hulle provinsiale kleure sal verwerf.

 

 

 

Hokkie speel in driehoekige toernooi

 

Ons hokkiespane neem vanmiddag op Mosselbaai aan ‘n driehoekige toernooi teen Hoërskool Punt en Hoërskool Sentraal deel. Dit gaan ‘n lang en vermoeiende dag wees, maar ons glo dat die hokkie-Dasse goeie rekenskap van hulleself sal gee.

 

 

 

Rugbyproewe

 

Vier rugbyspelers speel hierdie naweek in die Eden-rugbyproewe op George. Ons wens hulle baie sterkte toe.

 

 

 

Skyfskiet

 

Die skyfskieters neem hierdie naweek aan ‘n toernooi in die Kaap deel. Ons glo dat hulle dat hulle hierdie naweek sekuur sal korrel en sal skiet waar hulle mik!

 

 

 

Koekverkoping

 

Die OOV hou Maandag met die matriekklas ‘n koekverkoping om geld in te samel. Ons vra GROOT asb. dat ma’s (van matriekleerders) oor die naweek ‘n koek sal bak en dit Maandag saam met hulle kinders skool toe sal stuur. Uiteraard versoek ons dat die ander leerders Maandag ‘n geldjie sal saambring om minstens een stuk koek te koop. Die onderwysers sal moet sterk staan met al die leerders wat ‘n “sugar rush” ervaar!

 

 

 

 

Hoërskool Langenhoven – 75 jaar oud!

 

 

 

--

HSL FEES VANAF 29 JUNIE - 2 JULIE '17          

--