Awsum Logo Finaal

 

 

facebook png instagram-logo-

Facebook en Instagram

 

Dassedagsê 26/01

 

mail

Langenhoven Header web

26 Januarie 2018

                      Dassedagsê

Elektroniese nuusbrief

Indien enige ouer (of selfs grootouer!) die nuusbrief per e-pos wil ontvang, versoek ons dat u bloot ‘n e-pos met die opskrif “Dassedagsê” aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it."> sal stuur. Die formaat sal effens anders lyk, maar alle inligting sal dieselfde wees.

 

Almal wen met kleure-atletiek                  

‘n Baie suksesvolle kleure-atletiekbyeenkoms is gistermiddag vir ons leerders aangebied. Die entoesiasme en genot waarmee die leerders deelgeneem het, is verblydend. Die geelspan het naelskraps op die telbord gewen en die groenspan het op die pawiljoen uitgeblink. Daar was vele uitstekende prestasies, bv. Reevin February se grootse poging in die hoogspring vir seuns O/17. Hy het die rekord, wat al baie lank behoue gebly het, tot 1,86 meter verbeter. Daar sal op volgende week se nuusbrief ‘n uittreksel van al die beste uitslae verskyn.

 

Word ‘n Langenhoven Ondersteunersklublid

Daar is verskeie ouers van veral nuwe leerders wat gister navraag gedoen het oor hoe om lid van die Ondersteunersklub te word. Ons moedig ALLE ouers wat nie lid is nie, om by die Klub aan te sluit. Indien u dit wil doen, kan u bloot ‘n e-pos vir Estea, die skool se bemarker, by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it."> stuur en sy sal u van inligting voorsien.

 

Gr. 8’s se verwelkoming

Die skool glo dat alle gr. 8-leerders teen hierdie tyd baie welkom in die skool en koshuis voel. As u kind egter enige aanpassingsprobleme ervaar, of u self enige navrae/onsekerhede het, moenie huiwer om u kind se voogonderwyser of die skool te kontak nie. Die skool se informele leuse is, “Die skool waar elkeen iemand is”. Dit is dus belangrik dat elke leerder welkom voel en gelukkig in die skool sal wees.

 

Baie dankie, Riversdal Toyota!

Riversdal Toyota borg die skool al etlike jare deur ‘n motor aan die skool beskikbaar te stel. ‘n Week gelede het hulle weer ‘n pragtige nuwe motor kom aflewer. Ons is baie dank aan mnr. Henk Louwrens en Riversdal Toyota verskuldig!

 

Vakveranderings

Die Wes-Kaap Onderwysdepartement (WKOD) bepaal hoe en wanneer vakveranderings mag plaasvind. Volgens die voorskrifte mag geen gr. 12-leerder nou meer vakveranderings maak nie. Gr 11-leerders kan slegs tot 31 Maart ‘n vak verander. Gr. 10 leerders kan nog vakveranderings maak, naamlik aan die einde van die tweede kwartaal.

Daar is ook verskeie versoeke van ouers dat hulle kinders van klas moet skuif, om verskeie redes. In die senior grade word die klasindeling op grond van vakkeuse gedoen, dus kan leerders nie lukraak geskuif word nie. Leerders in die junior grade word in sekere klasse geplaas na aanleiding van spesifieke kriteria. Dit is dus dikwels nie moontlik om leerders na willekeur van klas te verskuif nie. Die skool vra asb. u begrip en ondersteuning hiervoor.

 

Berekening van gemiddelde persentasie in grade 10-12

Leerders wat ekstra vakke neem se gemiddelde persentasie word, vir die bepaling van die merietelys of erkenning, deur die leerder se sewe beste vakke bepaal. ‘n Ekstra vak kan dus ‘n vak, waarin die leerder nie goed vaar nie, vervang. ‘n Leerder moet egter aan die einde van gr. 9 ‘n gemiddelde akademiese persentasie van minstens 75% hê om ‘n ekstra vak te kan neem. ‘n Leerder moet die vak van gr. 10 af neem en kan nie in grade 11 en 12 besluit om ‘n vak addisioneel te neem nie. Daar is uiteraard bykomende kriteria vir die neem van Addisionele Wiskunde as vak.

 

Vasvat van gereelde oortreders

Die skool gaan vanjaar gereelde oortreders deeglik vasvat. Benewens die ontvang van detensieklasse, sal gereelde oortreders se voorregte ook van hulle weggeneem word. Indien ‘n leerder 20 dissiplinêre punte in ‘n jaar verwerf, sal hy/sy vir ‘n tydperk van ses maande geen sosiale funksie wat deur die skool aangebied word, mag bywoon nie. Indien ‘n leerder 30 strafpunte verwerf, sal die leerder vir ‘n jaar geen sosiale funksie mag bywoon nie, nie vir enige leiersposisie in aanmerking mag kom nie en van alle sport-/kultuurdeelname onttrek word. Die meerderheid leerders in die skool is vriendelik, beleefd en hardwerkend. Diegene wat NIE bereid is om aanvaarbare gedrag aan die dag te lê nie, sal vinnig hulle gedrag moet verander of die gevolge moet dra.

 

 

--

HS Langenhoven geborg deur RIVERSDAL TOYOTA          

--