Dassedagsé 12/05/17

Dassedagsê

Waardes: Gehoorsaamheid, Entoesiasme, Trots, Respek, Opregtheid, Uithouvermoë

Nuusbrief van Hoërskool Langenhoven               Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.                                  www.langenhovenhs.co.za                                                                                            

(028-7131065                                                     *Posbus 49, Riversdal, 6670                                                        12 Mei 2017

 

 

 

Dasse-netbal presteer

Daar is agtien Dasse wat Eden-kleure in netbal verwerf het. Dit is voorwaar ‘n puik prestasie! Hulle neem volgende naweek, 19 en 20 Mei, aan die Wes-Kaap Netbalproewe wat op ons eie bane aangebied word, deel.

 

Debat neem hierdie naweek deel

Agt debatspanne neem hierdie naweek aan die streeksuitdunne van die ATKV se dabatskompetisie op Mosselbaai deel. Baie ure se navorsing, dinkwerk en beplanning is die afgelope maande spandeer om vir hierdie kompetisie voor te berei. Ons wens die drie junior debatspanne en vyf senior spanne baie sterkte toe. Ons glo al die harde werk sal vrugte afwerp!

 

Dasse ruk op na Montagu

Die Dasse neem hierdie naweek aan die Montagu-sportdag deel. Die twee seunshokkie- spanne (O/14 en O/16) draf vir die eerste keer uit. Daar is uiteraard ‘n groot opgewondenheid onder hulle geledere. Ons vertrou dat dit baie goed met al ons spanne sal gaan. Baie dankie aan alle ouers wat leerders Montagu toe vervoer. Ons waardeer u opoffering en ondersteuning langs die velde! Die program is aangeheg.

 

Montana-sportdag

Die skool speel volgende naweek gasheer vir Hoërskool Montana (van Worcester) se sport-spanne. Ons netbalspanne sal egter nie in aksie wees nie omdat agtien van die topspelers aan die Wes-Kaap proewe deelneem. Ons skoolterrein sal egter baie bedrywig wees met die sportdag én Wes-Kaap proewe wat op die terrein aangebied word.

 

Bloedskenk

Daar is weer ‘n geleentheid vir ons leerders om bloed te skenk. Dit vind volgende Woensdag (17 Mei) by die skool plaas. Ons herinner aan die voorwaardes: leerders moet sestien jaar en ouer wees en meer as 50kg weeg. Leerders moet ook skriftelike toestemming van hulle ouers hê.

 

Eksamenrooster

Die eksamenrooster is aangeheg. Let asb. op die aanvangsdatum en datum van die laaste vakke.

 

75-jarige skoolfees

Onthou om te bespreek vir die aktiwiteite van die Skoolfees. Kaartjies is by die skool beskikbaar. As u ENIGE vrae het, kontak asb. vir Estea by die skool.

 

Wintersdrag vanaf Maandag!

Ons herinner daaraan dat leerders vanaf eerskomende Maandag volle wintersdrag moet dra.

 

Senior Bal

Die Senior Bal vind volgende Woensdag plaas. Baie dankie aan alle personeel en ouers wat met die reëlings gemoeid is. Ons weet dat dit ‘n heerlike aand vir ons leerders sal wees!

 

 

Hoërskool Langenhoven – 75 jaar oud!