mail
Langenhoven Header web
24 Augustus 2018
                      Dassedagsê

Interskole – ‘n groot dankie!

Ons wil alle ouers wat hard gewerk het tydens interskole van harte bedank. Ons wil mev. Janse van Rensburg, die voorsitter van die OOV, uitsonder vir al haar reëlings en harde werk. Die Dasse-leerders het nie net op die telbord puik presteer nie, maar ook met hulle gedrag en optrede tydens elke interskolestryd. Ons glo dat sportmanskap op die veld geseëvier het.

 

Anti-boelie week

Baie dankie aan mev. Krause en al haar helpers vir ‘n uiters geslaagde veldtog teen bullebakkery die afgelope week. Dit het gisteraand op ‘n hoë noot afgesluit met die kultuuraand. Baie dankie aan al die Dasse wat opgetree het en alle ouers wat dit bygewoon het.

 

Eisteddfod

Die jaarlikse Ratem Eisteddfod vind volgende week plaas. Ons wil al die Dasse wat deelneem, baie sterkte toewens. Ons weet dat baie ure se oefen voor ‘n optrede plaasvind.

 

Addisionele Wiskunde-eksamen

Die gr. 12-leerders wat Addisionele Wiskunde neem, skryf eerskomende Maandagaand hulle vraestel vir die September-eksamen. Ons glo dat dit met elkeen van hulle baie goed sal gaan. 

 

Kwêla besoek die skool

Kwêla, die bekende TV-program, se aanbieders besoek Dinsdag die skool. Hulle is eintlik hier om Marlé van Wyk, ons merkwaardige Das wat siggestremd is, te besoek. Hulle wil haar stryd om normaal te funksioneer te midde van siggestremdheid op kamera kom vaslê.

 

Matrieks begin Donderdag met die September-eksamen

Die matriekleerders begin volgende Donderdag, 30 Augustus, met hulle eksamen. Dit is egter noodsaaklik dat hulle tot Woensdag in die skool sal wees sodat onderwysers vir oulaas vaslegging met hulle kan doen voor hulle eksamen.

 

VRL-verkiesing

Die skool se verkiesing van Verteenwoordigende Raad van Leerders vind Donderdag plaas. Ons vertrou dat die leerders hulle stemreg op ‘n verantwoordelike wyse sal gebruik om die regte leiers vir 2019 te kies.

 

 

 

--

HS Langenhoven geborg deur RIVERSDAL TOYOTA          

--