Dassedagsê 02/06/17

                  

Langenhoven High SchoolDassedagsê

Waardes: Gehoorsaamheid, Entoesiasme, Trots, Respek, Opregtheid, Uithouvermoë

Nuusbrief van Hoërskool Langenhoven               Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.                                  www.langenhovenhs.co.za                                                                                            

(028-7131065                                                     *Posbus 49, Riversdal, 6670                                                       2 Junie 2017

 

 

Sterkte aan die redenaars en debatteerders

Die redenaars en debatteerders het reeds gister Port Elizabeth toe vertrek. Die redenaars vind vandag plaas en die skool se nege redenaars is almal in aksie. Die drie debatspanne wys môre hul staal. Ons glo dat dit baie goed met hulle sal gaan, dat die senuwees nie sal pla nie en dat hulle die geleentheid sal aangryp!

 

Eksamen

Die Junie-eksamen begin volgende week. Die eksamenrooster is reeds twee weke gelede uitgestuur. Daar is NORMALE ONDERRIG vir ALLE GRADE Maandag en Dinsdag. Dit is slegs die gr. 12-leerders wat Woensdag hulle eerste vak skryf. Die senior leerders wat nie praktiese eksamens aflê nie, moet ook dan in die skool wees. Die gr. 8’s en gr. 9’s skryf eers Vrydag hulle eerste vakke en moet beslis volgende week skool bywoon. Gevolglik bly skooltye dieselfde behalwe dat die skool Donderdag om 13:00 sluit. Eksamentye sal vanaf Vrydag tot en met 29 Junie geld, m.a.w. die skool sal om 08:00 begin en om 13:00 sluit. Ons herinner ook aan die sportoefeninge wat tydens die eksamen op Dinsdae en Donderdae voortgaan. Leerders sal vroeër klaar skryf en van 12:00 tot 13:00 oefen. Die leerders wat nie aan sport deelneem nie, sal ‘n studieperiode hê.

Ten opsigte van skoolbywoning in die eksamen die volgende: die Wes-Kaap Onderwysdepartement vereis dat leerders die skool elke dag gedurende die eksamentydperk (ook op die dae waarop eksamens nie afgelê word nie) moet bywoon. Die skool verleen gevolglik NIE TOESTEMMING NIE dat leerders tuis studeer op dae waarop hulle nie skryf nie.

 

Skaakproewe

Daar is weer hierdie naweek skaakproewe wat plaasvind. Die uitmergelende reeks proewe vind hierdie keer op George plaas. Ons wens ons skaakspelers baie sterkte toe en glo dat hulle die regte skuiwe sal maak!

 

Jan van Riebeeck

Die skool het ‘n baie suksesvolle naweek teen Jan van Riebeeck gehad en ses van die sewe spanne het die Kapenaars ore aangesit. Baie geluk aan al die spanne wat baie mooi gespeel het!

 

Personeel word gemotiveer

Agt personeellede vertrek vandag Stellenbosch toe om die Education Summit by te woon. Dit is ‘n motiveringsgeleentheid wat deur Riaan Truter, ‘n motiveringspreker en bekende persoon in onderwyskringe, aangebied word. Ons glo dat hulle sommer baie gemotiveerd sal terugkeer!

 

Skoolfees: 29 Junie tot 2 Julie

Ons het die afglope weke verskeie kere die skoolfees geadverteer. Ons herinner diegene wat dalk minder oplettend is aan die rede vir die skoolfees. Die skool is vanjaar 75 jaar oud alhoewel die gebou self 60 jaar oud is. Die skoolfees is vir ALMAL wat hierdie mylpaal wil kom herdenk. Ons het baie oud-skoliere gekontak en die fees onder hulle aandag gebring, maar dit is nie in wese ‘n reϋnie nie. Ons wil oud-skoliere, oud-ouers, huidige leerders, huidige ouers en vriende van die skool betrek.

Daar is die vertoning van Snotkop op Donderdag, 29 Junie, vir die leerders en jonges van gees. Kaartjies is by die skool beskikbaar. Daar is op dieselfde aand ‘n afval- en potjiekosete in die Klubhuis. Die afvalkaartjies en potjiekoskaartjies kos R120 en ‘n addisionele skaapkop sal R80 kos.

Op die Vrydagaand is daar ‘n lekker saamkuier-aand met ‘n bobaas-braai. Dit kos R200 per persoon.

Die skoolterrein sal op die Saterdagoggend ‘n miernes van bedrywighede wees. Die skool se eerstespanne sal met wedstryde teen ander skole in aksie wees. Daar is ook ‘n MTB- en prettrapgeleentheid. Die hardlopers kry ook geleenteid om hulle staal te wys. Daar is vir die minder aktiewe persone egter ‘n heerlike ontbyt in die Koshuis! Daar is selfs ‘n koshuismark wat deurlopend plaasvind. Alle kaartjies en inligting is by die skool beskikbaar.

Saterdagaand is ‘n hoogtepunt met Robin Banks, ‘n wêreldbekende motiveringspreker, wat tydens ‘n dinee op die Skouterrein optree. Kaartjies hiervoor kos R250 per persoon. Dit is ‘n geleentheid wat nie gemis mag word nie. Riversdal Superspar is die hoofborg van die geleentheid.

Daar is die Sondagoggend om 09:30 ‘n kerkdiens in die NG Moederkerk. Tee en verversing sal na afloop van die diens in die Klubhuis aangebied word. Die kaartjies vir die tee en verversings kos R20 per persoon en is ook by die skool beskikbaar. Raak dus betrokke en kom vier lekker saam fees!

 

Hoërskool Langenhoven – 75 jaar oud!