In 1935 is aanvaanklike idees i.v.m. die saamsmelt van hierdie twee skole gelug. Op 16 Mei 1940 is samesmelting uiteindelik by die onderwysdepartement aanbeveel. Die samesmelting kon egter eers in 1942 plaasvind, aangesien die Tweede Wêreldoorlog nog in volle swang was.
Dr. LS McFarlane, wat in 1937 hoof van die Seunsskool geword het, was die eerste hoof van nuutgestigde Hoërskool Langenhoven. Die skool is in die geboue van die Meisieskool gehuisves. Aangesien daar te min klaskamers was, moes die Graad 8-leerders na Laerskool Volschenk verskuif word . Daar is eers in 1956 met bouwerk aan die nuwe skoolgebou begin.
Op 29 Maart 1957 is Hoërskool Langenhoven se nuwe geboue amptelik in gebruik geneem. Dit het baie oorreding gekos voordat die onderwysowerhede ingestem het tot die bou van ‘n skoolsaal. Uiteindelik is toestemming vir die bou van die skoolsaal verkry en in 1958 is die R.E. le Roux Saal ingewy. Daarna is begin om die vlei voor die skool in sportvelde te omskep. Die sportterrein is op die naweek van 13-14 Augustus amptelik in gebruik geneem.