Die Skoolreëls

Die skool se leuse, “Getrou”, en die gepaardgaande waardes verpersoonlik ‘n leerder in Hoërskool Langenhoven. Daar word van leerders verwag om die waardes – Gehoorsaamheid, Entoesiasme, Trots, Respek, Opregtheid en Uithouvermoë – in gedrag en optrede uit te voer. Die skoolreëls skep riglyne waarin die leuse en waardes uitgeleef kan word. Die skoolreëls het dus ten doel om ‘n gedissiplineerde en doelgerigte omgewing, waar effektiewe onderrig en leer kan plaasvind, te skep. Geen leerder word van die skoolreëls en waardes vrygestel nie.

1. Skoolbywoning en verlof tot afwesigheid

‘n Leerder is verplig om die skool tydens die vasgestelde skoolure by te woon. Ouers/voogde moet die skool verwittig wanneer ‘n leerder afwesig is.
Slegs ouers kan leerders, met afwesigheid tydens die skooldag, uitteken.
Die skool moet van ‘n mediese sertifikaat voorsien word wanneer ‘n leerder versuim het om ‘n amptelike assessering a.g.v. siekte te voltooi.

2. Kleredrag en voorkoms

Alle reëls aangaande amptelike kleredrag en voorkoms geld wanneer dit gedra word, ook buite skoolure.

3. Gedrag en optrede

‘n Leerder mag nie op enige wyse optree wat die fisiese of geestelike welsyn van medeleerders of personeel in gevaar stel nie.
‘n Leerder mag geen stowwe, voorwerpe of materiaal in sy/haar besit hê wat tot nadeel van homself/haarself en enige ander persoon mag wees nie.
‘n Leerder moet opregtheid in gedrag en optrede uitleef.

4. Hantering van eiendom

Alle eiendom, privaat- of skooleiendom, moet met respek bejeen word.
Indien ‘n leerder skade aan enige eiendom veroorsaak het, sal sodanige leerder verantwoordelik wees vir die koste daaraan verbonde.

5. Algemeen

‘n Leerder mag slegs met die verlof van die skoolhoof ‘n selfaangedrewe voertuig op die skoolterrein hê.
‘n Leerder moet elke opdrag wat die skoolhoof of ‘n personeellid in hulle amptelike hoedanigheid gee, gehoorsaam.

6. Straf weens versuim om ‘n getroue leerder te wees

Oortreders sal in ooreenstemming met die magte en bevoegdhede wat deur die SA Skolewet (Wet 84 van 1996) aan die skool en Beheerliggaam verleen word, gestraf word.
Leerders en hulle besittings kan vir verbode middels, materiaal en voorwerpe deursoek word; daar kan op sodanige besittings beslag gelê word.

Reglemente tot die skoolreëls

1. Skoolbywoning

Die skooltye is soos volg:

MAANDAG TOT DONDERDAG
07:20 – 13:30

VRYDAE
07:20 – 13:00

2. Deelname aan die sport- en buitemuurse skoolprogram

Leerders wat gekies het om aan ‘n skoolaktiwiteit deel te neem, moet alle oefeninge, wedstryde en aktiwiteite getrou bywoon.

3. Kleredrag en voorkoms

Skooldrag moet te alle tye netjies wees met trots gedra word.

3.1 Seuns: Somer

Hemp – wit kortmou, oopnek. Indien langmouhemp, mag moue opgerol.
Broek – grys kort- of lang skoolbroek. Lyfbande moet swart wees en pas by skooldrag. Broeke moet netjies opgetrek wees.
Kouse – grys skoolkouse (lank indien saam met kortbroek gedra)
Skoene – swart skoolskoene wat met veters vasgemaak is. Skoene moet gereeld gepolitoer wees.
Trui – amptelike groen skool- of oortrektrui.
Baadjie – die skoolbaadjie (nie reënbaadjie) mag in die somer saam met ‘n ooknoophemp gedra word.

3.2 Seuns: Winter

Hemp – wit langmou of kortmou (hardekraag) met skooldas.
Broek – grys lang skoolbroek. Lyfbande moet swart wees en pas by skooldrag. Broeke moet netjies opgetrek wees.
Kouse – grys skoolkouse
Skoene – swart skoolskoene wat met veters vasgemaak is. Skoene moet gereeld gepolitoer wees.
Trui – amptelike groen skool- of oortrektrui onder die skoolbaadjie.
Die dra van die skoolbaadjie (nie reënbaadjie) is in die wintermaande verpligtend.

3.3 Dogters: Somer

Rok – groen geruite skoolrok
Hemp – wit kortmou, oopnek.
Sokkies – wit, kort skoolsokkies wat netjies omgevou is.
Skoene – swart skoolskoene, met of sonder swart veters.
Trui – amptelike groen skool- of oortrektrui.
Baadjie – die skoolbaadjie (nie reënbaadjie) mag in die somer saam met ‘n ooknoophemp gedra word.
Langbroeke word nie in kwartale 1 en 4 gedra nie.

3.4 Dogters: Winter

Rok – groen geruite skoolrok
Hemp – wit langmou of kortmou (hardekraag) met skooldas.
Broek – grys langbroek. Broeke moet netjies opgetrek wees.
Sokkies – grys skoolsokkies, alleenlik saam met die langbroek.
Kouse – lang, swart sykouse saam met die skoolrok.
Skoene – swart skoolskoene, met of sonder swart veters.
Trui – amptelike groen skool- of oortrektrui onder die skoolbaadjie.
Die dra van die skoolbaadjie (nie reënbaadjie) is in die wintermaande verpligtend.

4.1 Algemeen: Seuns

Hare moet netjies versorg wees. Dit mag nie oor die ore, kraag of oë hang nie.
Seuns moet daagliks skoon geskeer wees.
Geen “steps” of patrone in hare nie.
Hare mag nie gekleur word nie.
Geen eksotiese haarstyle nie.
Juweliersware is saam met skool- en sportdrag, asook skoolfunksies, verbode.
Die oordeel van die personeellid verantwoordelik vir seuns se voorkoms sal, in geval van onduidelikheid, as bindend beskou word.

4.2 Algemeen: Dogters

Hare moet netjies versorg wees. Dit moet met rekkies vasgemaak word wanneer dit oor die hemp se kraag hang en/of onnet vertoon.
Slegs silwer, goudkleurige, groen, swart of bruin haarknippies mag gedra word.
Haarrekkies moet pas by die skoolbaadjie of –trui en swart, groen, wit of bruin wees.
Die enigste aanvaarbare juweliersware is knopies of oorbelle. Slegs een goud- of silwerkleurige knopie mag in die oorbel gedra word.
Geen grimering of naellak word saam met skool- of sportdrag gedra word nie.
Skoolrokke mag nie korter as 15cm vanaf die grond wees nie wanneer daar op die knieë gestaan word.
Voorkomsreëls geld ook na skoolure wanneer skool- of sportdrag gedra word.
Die oordeel van die personeellid verantwoordelik vir dogters se voorkoms sal, in geval van onduidelikheid, as bindend beskou word.

5. Algemeen: Seuns en Dogters

Reënjasse mag op pad skool toe gedra word, maar nie in die skoolgebou nie.
Slegs swart of groen (skoolkleur) handskoene mag in Wintersmaande gedra word.
Slegs Langenhoven-sportsakke mag met wedstryde gebruik word.
Amptelike sportdae word in skoolklere of amptelike sportdrag bygewoon.

6. Gedrag en optrede

Ordelikheid moet heers wanneer klasse gewissel word.
Skooltasse moet stewig wees en mag slegs groen of swart wees.
Daar mag nie op die tasse geskryf word nie.
Boeke moet op só ‘n wyse oorgetrek word dat hulle beskerming geniet.
Leerders mag nie voor skool of tydens pouses sonder toestemming in klaskamers wees nie.
Leerders moenie onnodig in gange wees tydens pouses nie.

8. Algemeen

Leerders mag nie in die personeelkamer of een van die rekenaarlokale sonder toesig van ‘n personeellid wees nie.
Leerders moenie waardevolle items saambring skool toe nie.
Eet in die klaskamers is verbode.
Die kou van kougom is verbode.
Geen leerder mag staak of aan ‘n optog deelneem sonder die toestemming van die skoolhoof nie.
Leerders mag nie selfone (of elektroniese appparate waarop inligting gestoor kan word) gedurende die skooldag by hulle hê nie. Sou leerders betrap word dat hulle hierdie reël oortree, sal hulle volgens die selfoonbeleid gestraf word.
Geen liefkosing of handevashou op die skoolterrein, in skool- of sportdrag word toegelaat nie.

Enige kommentaar op dié nuwe gedragskode sal verwelkom word. U kan ‘n e-pos stuur na hoof.dasse@gmail.com

Scroll to Top